Lewensvennote kwalifiseer nou vir intestaatopvolging
Die Grondwetshof het onlangs, na die Oktober 2020 uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof, bevestig dat artikel 1(1) van die Wet op Intestaatopvolging ongrondwetlik is indien dit lewensvennote in ‘n verhouding wat bedoel is om permanent te wees, uitsluit, volgens die definisie van “gade”. Die hof het beveel dat die parlement twee wette moet wysig om die reg van ‘n oorblywende lewensvennoot in enige verhouding te erken as ’n ergenaam en dat hulle onderhoud kan eis nadat die ander vennoot sterf.
Die saak het ontstaan nadat Jane Bwanya die grondwetlikheid van die Wet op Intestaatopvolging en die Wet op die Onderhoud van Oorlewende Eggenote betwis het weens diskriminasie op grond van huwelikstatus.
Me. Bwanya, oorspronklik van Zimbabwe, en die oorledene, Mnr. Ruch, was betrokke in ‘n verhouding wat die meeste, indien nie al die eienskappe van ‘n huwelik ingesluit het nie. Hulle het mekaar in 2014 ontmoet en ‘n romantiese verhouding aangegaan. Later daardie jaar het Mnr. Ruch vir Me. Bwanya gevra om permanent by hom in te trek. Me. Bwanya het ingestem. Van toe af het hulle hul tyd verdeel tussen Mnr. Ruch se eiendomme in Camps Bay en Seaways. Me. Bwanya het haar plek by die Meadows behou, waar sy as ‘n huishulp aangestel was. Me. Bwanya en Mnr. Ruch se vriende was bewus van die verhouding. Die paartjie het mekaar vergesel na verskeie sosiale byeenkomste. Mnr. Ruch het Me. Bwanya aan sy vriende as sy vrou voorgestel. Hulle het dikwels in die teenwoordigheid van ander mense omhels en gesoen. Mnr. Ruch het ook na Me. Bwanya se broer as sy swaer verwys.
In November 2015, het Mnr. Ruch voorgestel dat hulle trou. Me. Bwanya het die voorstel aanvaar. Voorbereidings om na Zimbabwe te reis het begin sodat lobola-onderhandelinge kon begin en Mnr. Ruch haar familie kon ontmoet. Hierdie voorbereidings het die verkoop van die Seaways-eiendom behels. Die opbrengs sou gebruik word om lobola te betaal en ‘n voertuig vir die reis na Zimbabwe aan te skaf. Die plan was dat die paartjie na hulle reis sou trou. Op 23 April 2016, twee maande voor die beplande reis, het Mnr. Ruch onverwags gesterf. In sy testament het hy sy ma as die enigste erfgename van sy boedel aangewys. Sy ma het egter voor hom gesterf.
Me. Bwanya het twee eise teen Mnr. Ruch se boedel ingedien ingevolge die Wet op Boedeladministrasie. Dit was vir onderhoud ingevolge die Wet op die Onderhoud van Oorlewende Eggenote en vir erfreg ingevolge die Wet op Intestaatopvolging. Sy het die eise gegrond op die feit dat haar permanente lewensvennootskap met Mnr. Ruch soortgelyk aan ‘n huwelik was en dat hulle wedersydse ondersteuningspligte teenoor mekaar vervul het.
Die eise was gegrond op die volgende: die oorledene was haar lewensvennoot, hulle het saam in ‘n permanente, stabiele, en intieme verhouding geleef, en hulle was verloof om te trou. Verder was hul vennootskap gelyk aan, of het die meeste eienskappe van ’n huwelik getoon: die oorledene het haar finansieel en emosioneel ondersteun, en hy het haar aan sy vriende as sy vrou voorgestel. Verder het hulle wedersydse ondersteuningspligte aanvaar en was hulle van plan om saam ‘n gesin te begin.
Die eksekuteur van die oorledene se boedel het beide eise afgekeur op grond dat die Wet op Intestaatopvolging en die Wet op die Onderhoud van Oorlewende Eggenote slegs aan getroude egpare voordele verleen, en nie aan vennote in permanente lewensvennootskappe nie.
Die meerderheidsuitspraak van die Grondwetshof, opgestel deur Regter Madlanga, het beklemtoon dat permanente lewensvennootskappe ‘n geldige gesinstruktuur is en dat dit respek verdien en, gegewe onlangse ontwikkelinge in die gemenereg, regsaanspreeklikheid verdien. Die uitspraak het bepaal dat die definisie van “oorlewende” in artikel 1 van die Wet op die Onderhoud van Oorlewende Eggenote ongrondwetlik en ongeldig is in die gevalle waarin dit die woorde “en sluit die oorblywende vennoot van ‘n permanente lewensvennootskap wat beëindig is deur die dood van een vennoot, waar die vennote wedersydse pligte van ondersteuning aangegaan het en in omstandighede waar die oorblywende vennoot nie ‘n billike aandeel in die oorledene se boedel ontvang het nie” weglaat. Die uitspraak het beveel dat hierdie woorde in die definisie ingelees moet word.
“Gade” en “huwelik” word ook verklaar om ‘n persoon in ‘n permanente lewensvennootskap in te sluit. Die ongeldigverklaring is vir 18 maande opgeskort om die parlement die geleentheid te bied om die grondwetlike fout reg te stel.
Daarbenewens het die meerderheidsuitspraak die ongeldigverklaring van artikel 1(1) van die Wet op Intestaatopvolging wat deur die Hooggeregshof gemaak is, bevestig. Netso is hierdie ongeldigverklaring vir 18 maande opgeskort om die parlement die geleentheid te bied om die grondwetlike fout reg te stel.
Die Bwanya-uitspraak is ‘n oorwinning vir permanente lewensvennote, wat nou kwalifiseer as intestaaterfgename.
As u onsekerheid wil vermy en onbedoelde gevolge wil voorkom, bly die beste oplossing om ‘n professioneel opgestelde testament op te stel en dit indien nodig op te dateer. ‘n Geldige testament is altyd uiters belangrik. ‘n Geldige testament sou die noodsaaklikheid vir ‘n hofaansoek in die bogenoemde geval voorkom het.
Eksekuteurs moet voortaan enige eise van lewensvennote ingevolge een van die genoemde wette in ag neem, aangesien die versuim om dit te doen tot litigasie kan lei.
Reference List:
• Intestate Succession Act, 81 of 1987
• Maintenance of Surviving Spouses Act, 27 of 1990
• Bwanya v Master of the High Court, Cape Town and Others [2021] ZACC 51
• https://collections.concourt.org.za
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.