By die geboorte van ‘n kind het beide ouers outomaties ‘n plig om daardie kind te onderhou. Die feit dat die kind uit getroude of ongetroude ouers gebore is, is irrelevant. Die plig word proporsioneel volgens die ouers se onderskeie middele verdeel.
Artikel 15(1) van die Wet op Onderhoud bepaal dat ‘n hofbevel vir die onderhoud van ‘n kind gerig is op die gemeenregtelike plig van ‘n kind se ouers om daardie kind te onderhou. Aangesien hierdie plig by die geboorte van ‘n kind ‘n aanvang neem, word die vader byvoorbeeld nie onthef van sy plig om onderhoud te betaal indien die moeder nie poog om dit af te dwing nie.
Dit is ‘n algemene gebeurtenis dat ouers die reg op toegang tot ‘n kind as teenstand gebruik om nie onderhoud te betaal nie en omgekeerd. Voorbeelde sluit in wanneer ‘n vader onderhoudbetalings aan die moeder weerhou as hy nie kontak met die kind kan hê nie, of wanneer ‘n ma die vader toegang tot die kind weier as hy nie betalings vir die onderhoud van daardie kind maak nie.
‘n Ouer se reg op toegang tot ‘n kind en die plig om die kind te onderhou, is twee baie duidelike kwessies.
’n Ouer mag nie die betaling van onderhoud weerhou as hy of sy nie deur die ander ouer toegelaat word om sy/haar reg op toegang tot ’n kind uit te oefen nie. Die keersy van die munt is dat ‘n ouer nie die ander ouer toegang tot ‘n kind mag weier wanneer laasgenoemde nié bydra tot die onderhoud van daardie kind nie. Hierdie optrede is onwettig. Om die reg in eie hande te neem is verbode en behoorlike regsprosedures moet gevolg word om hierdie regte uit te oefen.
Indien ‘n ouer versuim om onderhoud te betaal, kan die ouer by wie die kind woon, wat algemeen na verwys word as die primêre versorger van die kind, die Onderhoudshof nader om aansoek vir kinderonderhoud te doen. By die bepaling van die bedrag wat die ouer moet bydra, sal die hof die lewenstandaard van die kind, die finansiële behoeftes van die kind, die inkomste van die ouers, die ouer se finansiële vermoë om onderhoud te betaal en/of gebrek daaraan, in ag neem.
In die geval dat ‘n ouer toegang tot ‘n kind geweier word, kan hy of sy die klerk van die kinderhof nader om aansoek te doen om ‘n ouerskapsplan ingevolge artikel 33 van die Kinderwet, wat die bepalings uiteensit waarvolgens toegang tot ‘n kind toegestaan word. Die ouerskapsplan is in wese ‘n ooreenkoms tussen die ouers rakende die opvoeding van die kind, insluitend maar nie beperk, tot onderhoud, onderwys en kontak met met die kind nie.
Die ouers kan die volgende ooreenkom en by die ouerskapsplan inkorporeer:
- Die primêre versorger van die kind
- Toegang tot die kind deur die ander ouer, met inagneming van, onder andere, naweke, skoolvakansies, verjaarsdae, spesiale geleenthede en vervoerreëlings
- Die bedrag van onderhoud betaalbaar insluitend of uitgesluit, onder andere, mediese uitgawes, en/of skoolfonds en -uitgawes
- Toestemming en reëlings met betrekking tot reis buite die provinsie, buite die land, ens.
- ‘n Prosedure om te volg wanneer ‘n dispuut in terme van die ooreenkoms ontstaan
Die partye kan kies om ‘n ouerskapsplan ‘n hofbevel te maak en ‘n ouer wat dit verontagsaam, kan in minagting van die hof gehou word onderhewig aan die uitputting van alle alternatiewe metodes van geskilbeslegting.
As ouer, het jy die plig om jou kind te onderhou en die reg op toegang tot jou kind. Alhoewel hierdie kwessies nou verwant is, bly dit twee afsonderlike sake met verskillende regsprosesse. Daarom is dit onwettig vir ‘n ouer om onderhoud van ‘n kind te weerhou wanneer toegang tot daardie kind geweier word en omgekeerd.
Bronnelys:
- Kinderwet 38 van 2005
- Wet op Onderhoud 99 van 1998
- School for Legal Training: Attorneys’ Practice Study GuideGawie Le Roux 2018
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.