Artikel 9H van die Wet op Inkomstebelasting handel oor aangeleenthede rakende die beëindiging van inwonerskap in Suid-Afrika.
In hierdie artikel word in wese gesê dat indien ’n persoon wat ’n inwoner is, gedurende enige jaar van aanslag ophou om ’n inwoner te wees, die persoon behandel moet word asof hy van sy bates ontslae geraak het op die datum onmiddellik voordat hy sy verblyfreg beëindig het, en dieselfde bates op ’n datum onmiddellik daarna herverkry het. Dit word as ’n ‘geagte beskikking’ beskou. Net so, word geag dat die jaar van aanslag onmiddellik voor die staking geëindig het en die daaropvolgende dag weer ‘n aanvang geneem het.
So ’n ‘geagte beskikking’ hou nie verband met die onroerende eiendom wat so ‘n persoon in Suid-Afrika mag besit nie.
As gevolg van die beëindiging van sy Suid-Afrikaanse belastinginwonerskap (’n gebeurtenis wat eenvoudig verklaar word deur ’n blokkie op die jaarlikse inkomstebelastingopgawe te merk), word ’n sogenaamde geagte beskikking (ook soms ‘uitgangskoste’ genoem) geaktiveer, ingevolge waarvan geag word dat al die bates van die individu teen markwaarde van die hand gesit is op die dag voordat hy opgehou het om ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner te wees.
Hierdie gebeurtenis gee dus potensieël aanleiding tot die hef van kapitaalwinsbelasting op die geagte vervreemding. Soos egter hierbo gemeld, is Suid-Afrikaanse onroerende eiendom, kontant en (hoewel dit nie uitdruklik vermeld word nie, maar op ’n baie tegniese basis ingesluit word) ook opgehoopte aftreefondse, uit hierdie regime uitgesluit. Afgesien van hierdie bates, word alle oorblywende Suid-Afrikaanse en ander wêreldwye bates by die ‘geagte vervreemding’-regime ingesluit.
Voordat ’n belastingpligtige oor die beëindiging van belastinginwoning besluit, moet ondersoek ingestel word na moontlike belastingverdrag-verligting waarvoor die individu mag kwalifiseer. Die SAID het verklaar dat ’n individu wat eksklusief geag word as ’n inwoner van ’n ander land vir doeleindes van ’n belastingverdrag, by die definisie van ‘inwoner’ uitgesluit is. Dit volg dat alhoewel ’n individu as ’n inwoner volgens die gewone woonagtig- of fisiese teenwoordigheidstoetse mag kwalifiseer, daardie individu nie vir Suid-Afrikaanse belastingdoeleindes as ’n inwoner beskou sal word indien die persoon ’n inwoner van ’n ander land is wanneer hy om ’n belastingverdrag aansoek doen nie.
Op grond hiervan, is dit duidelik dat artikel 9H van die Wet op Inkomstebelasting onmiddellik van toepassing word op ’n belastingpligtige in die geval van finansiële emigrasie of die beëindiging van belastinginwoning, om watter rede ook al, en die belastingaanspreeklikheid in die lopende jaar van aanslag waartydens beëindiging van die inwoning plaasvind, kan verhoog. ’n Mens moet egter altyd die bogenoemde vrystellings in gedagte hou, en in die geval waar emigrasie en/of staking van belsatinginwonerskap oorweeg word, pre-emigrasiebeplanning van uiterste belang is om te verseker dat ’n gladde oorgangsplan geformuleer word.
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat spruit uit die vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak altyd u adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. Foute en weglatings is uitgesonder (E&OE).