‘n Hof is geregtig daarop om ‘n bevel te maak oor regskostes in gevalle waar een party verplig is om sommige of ál die ander party se regskostes te betaal, en sal dit gewoonlik aan die einde van ‘n saak beslis.
Eerstens is dit belangrik om daarop te let dat regskoste in terme van tariewe toegeken word. Daar is landdroshoftariewe en hooggeregshoftariewe. Hierdie tariewe is in skale gerangskik wat sake volgens die hoeveelheid geld ter sprake verdeel, asook in watter hof die aangeleentheid voorgelê is (landdroshof of hooggeregshof).
Hooggeregshoftariewe sal van toepassing wees indien die bedrag van die eis meer as R400 000 is. Daar is ook sekere sake wat slegs deur ‘n hooggeregshof aangehoor word, waar die hooggeregshoftariewe van toepassing sal wees. Tariewe in die landdroshof verskil van dié in die hooggeregshof – laasgenoemde is teen ‘n hoër koers. Hierdie tariewe word dikwels gewysig, en prokureurs moet van die wysigings bewus wees sodat die korrekte tariewe aangeteken word.
Daar is drie hooftipes regskostes wat ‘n hof ‘n onsuksesvolle party kan beveel om te betaal, naamlik party-en-partykoste, prokureur-en-kliëntkoste, en prokureur-en-eie-kliëntkoste.
Party-en-partykoste
Party-en-partykoste is regskoste wat ‘n hof beveel die onsuksesvolle party aan die suksesvolle party in ‘n saak moet betaal. Die regskoste wat toegeken word, is daardie koste wat die suksesvolle party aangegaan het vir die duur van die saak, maar sluit nie regskostes voordat die aangeleentheid na die hof gebring is, in nie.
Hierdie koste word spesifiek ingevolge die hoftariewe toegeken. Die hoftariewe bepaal vir watter koste geëis kan word en teen watter koers. Sommige van hierdie kostes sluit die opstel van die dagvaarding of aansoek in, asook konsultasie met ‘n kliënt.
Prokureur-en-kliëntkoste
Prokureur-en-kliëntkoste sluit party-en-partykoste, sowel as ander regskostes in. ‘n Voorbeeld van só ‘n bykomende koste is die opgehoopte koste van bywoning tussen die party en hul prokureur.
Hierdie koste word nie gereeld toegeken nie. Só ‘n kostebevel word egter oor die algemeen toegeken waar ‘n kontrak spesifiek bepaal dat koste op ‘n prokureur-en-kliëntskaal betaalbaar sal wees indien ‘n dispuut ingevolge die kontrak sou ontstaan.
Hierdie koste is onderhewig aan dieselfde hoftariewe as wat vir party-en-partyskaalkoste van toepassing is.
Prokureur-en-eie-kliëntkoste
Prokureur-en-eie-kliëntkoste is die koste wat betaalbaar is deur ‘n kliënt aan ‘n prokureur in terme van die prokureur se eie tarief. Hierdie koste is nie onderhewig aan die hoftariewe nie, wat beteken dat dit nie teen ‘n sekere koers beperk word nie. Die volle bedrag verskuldig aan die prokureur in terme van hul eie tarief sal betaalbaar wees.
Sodra kostes toegeken is, moet ‘n kosterekening ingevolge die toepaslike tariewe opgestel word en aan die belastingmeester van die betrokke hof verskaf word. Die belastingmeester sal die kosterekening oorweeg en die korrektheid van die inskrywings en bedrae in die kosterekening bepaal.
Indien die onsuksesvolle party die korrektheid van die kosterekening betwis, is hulle geregtig daarop om die kosterekening te opponeer en word hulle vereis om die redes vir die opposisie uiteen te sit. Die belastingmeester sal egter die finale sê hê of die bedrae wat in die kosterekening aangeteken is, korrek is.
Sodra die kosterekening suksesvol belas is, word daar van die onsuksesvolle party vereis om ‘n betaling ingevolge daarvan te maak.
Bronnelys:
- Landdroshofreëls
- Hooggeregshofreëls
- https://www.dsclaw.co.za/articles/understanding-legal-costs-in-south-africa-a-simple-guide/
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat spruit uit die vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak altyd u adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. Foute en weglatings is uitgesonder (E&OE).