Die gewig wat gebruiklike huwelike dra, is weereens beklemtoon tydens ‘n regsdispuut tussen twee weduwees. Albei vrouens het beweer dat hulle wettiglik met hul nou-oorlede man getroud was. Die eerste vrou het verklaar dat sy ingevolge gewoontereg in 1991 met haar man getrou het. Die tweede vrou het verklaar dat sy die “ware vrou” is omdat sy in 2007 wettiglik met haar man in terme van siviele verrigtinge getrou het.
Albei vrouens het beweer dat hulle geregtig is op hul oorlede man se boedel, en elkeen het die Gautengse hooggeregshof in Pretoria versoek om hul huwelik as geldig te verklaar. Toe Steve Sibanyoni in Desember 2020 dood is, het hy egter geen idee gehad dat sy huwelik met die tweede vrou ongeldig was nie omdat hy volgens die hofuitspraak ná sy dood steeds met vrou nommer een getroud was.
Na die oorledene se dood, het sy eerste vrou gepoog om sy boedel aan te meld, maar sy is toe deur die Meester van die Hooggeregshof ingelig dat die tweede vrou as eksekuteur aangestel is uit hoofde van haar siviele huwelik met die oorledene. Die eerste vrou, wat ten tyde van sy dood meer as 30 jaar met Sibanyoni getroud was, het na die hooggeregshof gegaan om haar status as die “ware vrou” te laat erken.
Die eerste vrou het bevestiging van ‘n tradisionele owerheid gekry aangesien haar gebruiklike huwelik nie by Binnelandse Sake geregistreer was nie. Sy het volgehou dat haar gebruiklike huwelik nie ontbind was toe haar man met die tweede vrou getrou het nie en het gesê dat die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike haar die wettige vrou gemaak het. Die tweede vrou, aan die ander kant, het verklaar dat haar huwelik in ‘n openbare seremonie voltrek is en dat die eerste vrou van haar huwelik met die oorledene bewus was en nie daarteen beswaar gemaak het nie.
Regter Cassim Sardiwalla het gesê dat huwelike in terme van gewoontereg aanleiding gee tot sekere regskomplikasies. Sardiwalla het gesê daar moet ondersoek word of die gebruike, tradisies of rituele wat in die onderhandelinge en viering van gebruiklike huwelike nagekom moet word, nagekom is. Dit sluit in die onderhandelinge wat lei tot die ooreenkoms oor lobolo, asook enige ander tradisie, gebruik of ritueel wat daarmee geassosieer word. Indien ‘n gebruiklike huwelik nie ooreenkomstig die gewoontereg gesluit is nie, kan dit nie as geldig beskou word nie.
Die hof het bevind dat die vereistes vir ‘n geldige gebruiklike huwelik dus soortgelyk is aan dié wat vir ‘n burgerlike huwelik voorgeskryf word, behalwe dat ‘n gebruiklike huwelik ooreenkomstig die gewoontereg onderhandel en gesluit of gevier moes word. Die regter het verwys na ‘n vroeëre hofuitspraak oor hierdie onderwerp, waarin gesê is: “No hard and fast rules can be laid down; this is because customary law is a flexible, dynamic system, which continuously evolves within the context of its values and norms, consistent with the Constitution, so as to meet the changing needs of the people who live by its norms.”
Alhoewel die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike dit verpligtend maak om só ‘n huwelik te registreer, bepaal dit egter dat versuiming om dit te doen nie die geldigheid van daardie huwelik aantas nie. Sardiwalla het die gebruiklike huwelik tussen die eerste vrou en die oorledene geldig verklaar en die siviele huwelik tussen die tweede vrou en die oorledene nietig verklaar. Die Minister van Binnelandse Sake is opdrag gegee om die burgerlike huwelik tussen die tweede vrou en die oorledene uit die huweliksregister te skrap en die gebruiklike huwelik te registreer.
Verwysingslys:
- Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike 120 van 1998
- Huwelikswet 25 van 1961
- Phele and Another v Sibanyoni and Others – Uitspraak: 15 Julie 2022
- Mbungela and Another v Mkabi and Others 2020 (1) SA 41 (SCA)
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.