Die koper gaan ‘n verkoopsooreenkoms met die verkoper aan. Die eiendom word in die koper se naam oorgedra. ‘n Maand later was daar swaar reënval en die dak lek. Is die verkoper aanspreeklik vir die herstel van die dak, of neem die koper, as die nuwe eienaar, verantwoordelikheid daarvoor?
Om te verstaan watter party aanspreeklik is, moet ‘n mens die verskil tussen verborge en sigbare defekte begryp. Verborge defekte is nie sigbaar nie of kan ontdek word wanneer die eiendom ondersoek word. Hierdie tipe skade benadeel die gebruik en genot van die eiendom. Tipiese voorbeelde van verborge defekte is lekkende dakke, vog en/of strukturele defekte in die fondasie, om net ‘n paar te noem.
Aan die ander kant, verwys ‘n sigbare defek na skade wat geredelik aan die lig gebring word wanneer die eiendom geïnspekteer word. Gevolglik kan die partye die opsies bespreek ten opsigte van wie na die herstelwerk sal omsien. Dieselfde kan tussen die partye onderhandel word, of dit nou die verkoper is wat die sigbare defek herstel of die koopprys vir die koper verminder om die skade te laat herstel.
Dit is dus die verborge defek-aangeleentheid wat aanleiding gee tot die dispuut tussen die partye indien dit sou ontstaan. Die gemeenregtelike posisie is soos volg:
- Indien die verkoper aan die koper ‘n uitdruklike skriftelike waarborg gee dat die eiendom vry van enige defekte verkoop word, en nadat die verkoopsooreenkoms afgehandel is, die koper bevestig dat daar ‘n defek is, kan die verkoper aanspreeklik gehou word vir die herstelwerk. Indien die verkoper byvoorbeeld in die verkoopsooreenkoms verklaar het dat die dak nié lek nie en die koper na die sluiting van die ooreenkoms lekkasies in die dak ervaar, word die verkoper aanspreeklik gehou aangesien ‘n kontrakbreuk gepleeg is.
- Indien die verkoper wanvoorstellings aan die koper gee aangaande die eiendom se toestand, kan die verkoper aanspreeklik gehou word. Byvoorbeeld, indien die verkoper bewus is daarvan dat die dak lek en nie dit aan die koper verklaar nie, kan die verkoper aanspreeklik gehou word, en die verkoopsooreenkoms kan ter syde gestel word, of die koper kan voortgaan en die prys verminder om op te maak vir die skade.
‘n Mens kan wel vra: wat as die verkoper nie geweet het van die verborge defek nie? Die antwoord is ja, die verkoper kan aanspreeklik gehou word indien die defek reeds bestaan het toe die verkoopsooreenkoms tussen die partye gesluit het.
Maar hoekom is daar ‘n voetstootsklousule in die verkoopsooreenkoms, wat veronderstel is om die verkoper te beskerm deur die koper in te lig dat hy/sy/hulle die eiendom nes dit is (voetstoots) koop? Die voetstootsklousule beskerm nie die verkoper nie en sluit nie die verkoper se aanspreeklikheid uit indien die wanvoorstelling bewys word nie; dus, indien die verkoper bewus was van die verborge gebrek en dit nie aan die koper bekend gemaak het nie, kan die verkoper aanspreeklik gehou word.
Die Wet op Verbruikersbeskerming, wat op 1 April 2011 in werking getree het, bepaal dat die koper in kennis gestel moet word van alle besonderhede rakende die eiendom wat hy/sy/hulle koop. Sodra die verkoper uitdruklik sê in watter toestand die eiendom is en die koper die huidige toestand van die eiendom uitdruklik aanvaar voordat die eiendom gekoop word, verval die stilswyende waarborg van die eiendom se toestand. Die effek van die WVB was dat die voetstootsklousule min doen om die verkoper te beskerm wanneer dit by skade kom; daarom word die verkoper versoek om alle skade aan die eiendom aan die koper te verklaar voordat ‘n verkoopsooreenkoms aangegaan word.
Bronnelys:
- PRACTITIONERS GUIDE CONVEYANCING & NOTARIAL PRACTICE BY ALLEN WEST
- WET OP VERBRUIKERSBESKERMING 68 VAN 2008
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.